'n Skim van Myself - Afrikaans
‘n Skim van Myself
Het jy al ooit deur ‘n kalkglas venster gekyk?
Die dof-wit glas
versteek dit wat aan die ander kant staan
sodat jy slegs die buitelyn kan sien;
‘n skadubeeld as jy wil.
‘n Skadubeeld –
dis hoe ek myself sien;
‘n half-sigbare figuur
met geen duidelike vorm nie.
My emosies is oorskadu met ‘n sagte grys
en my kop gevul met kriewelende leegheid.
Ek weet dat ek steeds bestaan
maar bestaan is al wat ek werklik doen.
Dag tot dag leef ek in ‘n wêreld wat
eenvoudig net sy kleur verloor het.
Die wêreld voel ver van my af –
asof ek in ‘n droom ronddwaal.
My lewe is grys.
Grys is die kleur van die middelgrond,
van die tussen-in spasie wat nie so sleg is om aandag te
verg nie
en ook nie goed genoeg nie.
As gevolg van een of ander vreemde knoop in die
kriewelende leegheid
is grys ook my gunsteling kleur.
Ek is al gewoont aan die eentonigheid war stadig my psige
afkraak.
Ek het al so lank onder herdie grys kombers gelê
dat ek nie eers meer weet wie ek is nie.
Waar word my menslikheid van die grysheid geskei
en wat is dit om normaal te voel?
Die kranksinnigheid wat onbeheers in my kop skommel
word versigtig bedek met ‘n glimlag
en ‘n “goed en met jou?”
As jy so lank aanhou met voorgee
dan word dit automaties.
As ‘n skim van myself het ek myself vergeet.
Het ek dit geniet om te praat?
Was dit maklik om my oë oop te maak?
As jy so lank van jouself geskei is,
dan verdamp jy.
Nou wat?
Wat is die deurslaggewende boodskap waarna hierdie
depressiewe monoloog opgebou het?
Wat het my gered en die kleur teruggebring?
Daar is nie ‘n redding nie,
daar is nie ‘n wolkbreuk waardeur sonstrale gaan skyn
en my laat glimlag nie.
In werklikheid is die grys konstant –
partykeer is dit ligter en partykeer donkerder,
maar altyd daar.
Die konstante struikel teen die grys om my kop bo die
water te hou
dreineer die min energie wat ek steeds het.
My doel is dus om te oorleef.
Hierdie eenvoudige prestasie sal ek hanteer asof dit ‘n
wonderwerk is;
asof dit ‘n trofee is.
Moet my nie jammer kry nie; ek soek nie jou simpatie nie.
Jy kan dink van my wat jy wil,
dat ek ‘n oordramatiese, naïewe tiener is wat nog
niks van die wêreld weet nie.
Dink wat jy wil,
maar ek sal steeds my doel bereik;
ek sal oorleef.
En dit is genoeg.
Hellcat (2017)
Comments
Post a Comment